Navo veg voort teen Gaddafi
2011-06-02 07:06
Den Haag - Navo het sy veldtog teen die regime van kol. Muammar Gaddafi in Libië formeel met nog 90 dae verleng.
Só het die organisasie se sekretaris-generaal, Fogh Anders Rasmussen, in ’n verklaring gesê wat Woensdag in Brussel uitgereik is. “Die besluit stuur ’n duidelike boodskap aan die Gaddafi-regime: Ons is vasbeslote om ons operasie voort te sit om die mense van Libië te beskerm.”
Die boodskap aan die mense van dié land is: “Navo, ons bondgenote, die hele internasionale gemeenskap staan by julle. Ons is verenig om seker te maak dat julle jul eie toekoms kan vorm. En daardie dag kom nader,” lui die verklaring.
Navo het op 31 Maart met lugaanvalle teen die Gaddafi-regime begin om hom tot ’n val te bring. Vliegtuie van Amerika, Frankryk, Duitsland, Nederland, België, Italië, Spanje, Griekeland en Katar neem deel aan lugaanvalle op Gaddafi-magte wat teen rebelle veg.
’n Woordvoerder van die Libiese diktatuur, Moessa Ibrahim, het luidens berigte beweer die lugaanvalle het reeds die lewe van 718 burgerlikes geëis en 4 067 mense is glo gewond.
Die Londense Guardian berig intussen dat gewese lede van die Britse spesmagte, die SAS, en ander private werknemers van Westerse sekerheidsondernemings in Libië is om Navo-vliegtuie te help om teikens op die grond te identifiseer.
Hulle is glo daar met die goedkeuring van die Amerikaanse, Franse en Britse regerings, wat ook kommunikasietoerusting verskaf het.
Kragtens Resolusie 1973 van die Veiligheidsraad mag geen Navo-soldate op die grond saam met die rebelle veg nie. Op dié wyse word die resolusie omseil.
- Volksblad