Navo ontken bewerings oor verskerpte aanvalle
2011-07-08 09:27
Tripoli – Navo het ontken dat die alliansie die lugaanvalle gebruik om die weg na Tripoli, die Libiese hoofstad, vir die rebelle oop te maak.
Die organisasie het benadruk dat hy bloot sy mandaat uitvoer om burgerlikes te beskerm.
Mika Bracken, ‘n woordvoerder vir die alliansie in Napels, Italië, het gesê dat Navo “nie betrokke by gevegte op die grond" is nie.
Khaled Kaim, Libië se adjunk-minister van buitelandse sake, het Navo daarvan beskuldig dat die alliansie die bomaanvalle verskerp en buitelandse huursoldate ondersteun in ‘n poging om die rebelle te help om Tripoli oor te neem en die Libiese regime omver te werp.
Kaim het vroeër beweer dat die bomaanvalle die “finale fase” van Navo se lugveldtog verteenwoordig, en dat burgerlikes die ergste daaronder sal ly.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP