Namibiër vas ná sy glo moord op man beplan
2011-12-11 07:00
Kaapstad – ’n Sakevrou van Windhoek het haar rieme styfgeloop toe die twee mans wat sy na bewering gehuur het om haar man, ’n bekende perdeteler, te vermoor, haar planne aan die polisie verklap het.
Die polisie het ’n lokval vir Susanne Hoff (51) gestel en sy is in hegtenis geneem.
Nou gaan dié bekende in reklame- en perdrykringe waarskynlik die Kerstyd agter tralies deurbring.
Egbert Hoff, haar man, besit die perdestoet Neu Heusis en is ook ’n Simmentaler-teler.
Die egpaar is 20 jaar getroud en het twee kinders.
Mev. Hoff word daarvan beskuldig dat sy twee mans 37 000 Namibiese dollar (sowat R37 400) aangebied het om haar man te vermoor.
Sy het hulle glo ’n voorskot van $17 000 (sowat R17 200) betaal en gevra dat hulle ná die moord haar man se bakkiesleutels en beursie aan haar oorhandig as ’n bewys dat hulle die daad gepleeg het.
Nadat die mans haar by die polisie verkla het, is ’n plan beraam om die sameswering bloot te lê.
Polisiebeamptes het die twee mans vergesel en eers die twee artikels by mnr. Hoff gaan haal. Hulle het dit aan mev. Hoff oorhandig.
Sy is kort daarna in Windhoek in hegtenis geneem.
Mnr. Hoff was glo platgeslaan toe hy van sy vrou se planne verneem.
Die Namibiese koerant Republikein berig die motief vir die moord is onduidelik, maar mev. Hoff het verlede week vanuit die polisieselle aan die The Namibian gesê haar man se dood sou in der waarheid ’n “groter las” op haar wees.
Sy het vermoed dat haar man finansiële probleme gehad het en dat hy van die stoetperde wou verkoop.
As hy sou sterf, sou sy met al die skuld opgesaal wees, het sy gesê.
Hoff beweer sy het ’n man gehuur en hom geld voorgeskiet om te kyk of haar man van die perde aan hom sal verkoop. Hy sou ook ’n helper betrek.
Toe sy die man later ontmoet om die kwitansie vir die kwansuise transaksie te sien, het die polisie haar in hegtenis geneem, vertel sy.
Sy het gesê haar man het buite-egtelike verhoudings gehad en het haar al aangerand.
Sy het glo ook voor die onlangse voorval met ’n prokureur gepraat om ’n egskeidingsaak aanhangig te maak.
Mnr. Hoff het glo in Junie na ’n ander woning op die egpaar se plaas getrek.
Borgtog is nie onmiddellik aan Hoff toegestaan nie, maar sy is ingelig sy kan formeel om borgtog aansoek doen.
Die egpaar se regsverteenwoordigers kon nie om kommentaar bereik word nie.
Die saak is tot 30 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Die verklarings van ses getuies is nog uitstaande.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport