Ná maand geen teken van vermiste boer
2011-10-16 08:35
Johannesburg – ’n Maand gelede het ’n bejaarde boer spoorloos verdwyn nadat hy met vyf liter water, ’n sakkie eetgoed, ’n byl en ’n GPS die wildernis in Botswana ingestap het op soek na hulp.
“As hulle net iets kry. Enigiets. ’n Skoen, sy hoed, sy knipmes. Roofdiere kon dit tog nie ook gevreet het nie? Die onsekerheid maak ons gek. As ’n mens iets kry, kan ons die hoofstuk afsluit,” sê Estelle Bullen, skoondogter van John (80) en Lorraine (78) Bullen.
Bullen en sy vrou het op 11 September vertrek van hul plaas, Badfontein naby Lydenburg in Mpumalanga, om te gaan vakansie hou in Botswana.
Op 13 September het hulle ’n kortpad na die Savuti-kamp in die Chobe-natuurreservaat geneem.
Hul viertrekvoertuig, ’n Land Rover Discovery, het in ’n droë rivierbed vasgeval.
Hulle het ’n dag lank gespook om dit los te kry.
Die volgende dag het Bullen besluit om die 37 km na die kamp te voet aan te durf, deeglik bewus van die gevare wat hiënas, leeus en ander wilde diere inhou.
Hy is nooit weer gesien nie.
Vier dae lank het mev. Bullen in die voertuig gesit, gehoop en gewag.
“Dis God se genade dat olifante haar nie aangeval het terwyl sy daar gesit het nie, want dit is reg in hul voetpaadjie,” sê Estelle.
’n Nederlandse toergroep, wat ook verdwaal het, het mev. Bullen gekry en na ’n nabygeleë militêre basis geneem.
Soekgeselskappe het onverpoos na Bullen gesoek en soek glo steeds.
Volgens Estelle bly die familie hoop en vertrou, maar die werklikheid skop in.
“Dit was vandag (Vrydag) ’n maand. Hy het nie watervoorraad vir ’n maand gehad nie.”
Estelle het navorsing gedoen en sê daar is verslae oor nege ander mense wat in die laaste drie jaar in dieselfde gebied verdwyn het. Dit kon nie bevestig word nie.
Estelle is vol lof vir die polisie in Botswana wat daagliks met die familie in verbinding tree.
“Daar is net geen teken van hom nie. Dit is baie tragies,” sê Albie Laubscher, ’n woordvoerder van die departement van buitelandse sake, wat steeds die soektog na Bullen monitor.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport