NOR moet nie deel van VN raak – Latyns-Amerika
2011-09-16 10:01
Tripoli – ‘n Groep Latyns-Amerikaanse lande, onder aanvoering van Venezuela, wil probeer voorkom dat Libië se Nasionale Oorgangsraad 'n setel in die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies kry, het RSG berig.
Libië se setel behoort nog amptelik aan die regering van Muammar Gadaffi.
VN-diplomate het egter gesê die Algemene Vergadering is eenstemmig daaroor dat die Oorgangsraad die setel moet kry.
'n Brief van die ambassadeur van Venezuela aan die president van die Algemene Vergadering om daarteen beswaar te maak, sal waarskynlik lei tot 'n stemmery oor die kwessie.
Vroeër het David Cameron, die Britse premier, en Nicholas Sarkozy, die Franse president, onderneem om nog Libiese bates, wat as gevolg van die geweldadige onderdrukking van Gadaffi se bewind bevries is, beskikbaar te stel.
Duisende Libiërs het die twee leiers vroeër in Benghazi verwelkom. Hulle was in Libië vir samesprekings met die tussentydse leiers in Tripoli en het ook hul steun aan die Nasionale Oorgangsraad toegesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG