Mugabe wil WikiLeaks-onthullings ondersoek
2011-10-12 13:16
Harare – Pres. Robert Mugabe wil dalk beamptes ondersoek wat in diplomatieke notas op die klikwebwerf WikiLeaks gesê het hy ly aan prostaatkanker, het die staatsmedia Woensdag berig.
"Die president was baie duidelik dat ons as 'n party op die saak ingaan om die oorsprong en geldigheid van die stellings op WikiLeaks vas te stel," het Rugare Gumbo, woordvoerder vir Mugabe se Zanu-PF-party, gesê.
Gumbo het gesê die party se sentrale komitee het die WikiLeaks-kwessie bespreek en dat Mugabe gesê het sommige van die kabels is dalk oordrewe.
Luidens diplomatieke notas wat in September deur WikiLeaks onthul is, sal Mugabe in 2013 sterf.
Gideon Gono, goewerneur van Zimbabwe se sentrale bank en Mugabe se persoonlike bankier, het dié bewerings glo in Junie 2008 teenoor James McGee, ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur, gemaak.
Ondanks bespiegeling, het amptenare van Zanu-PF tot dusver geweier om te erken dat hy gesondheidsprobleme het.
George Charamba, presidensiële woordvoerder, het vroeër gesê die reise wat Mugabe en sy vrou, Grace, vanjaar na Asië onderneem het, is weens Mugabe se katarak-operasie in Januarie en behandeling vir rugbeserings wat sy vrou opgedoen het nadat sy in hul herehuis in Harare geval het.
Mugabe se party het verlede maand gesê die onthullings is "ontstellend en ontmoedigend".
– Volg Nuus24 op Twitter