Mugabe wéér in Singapoer
2011-10-28 10:01
Harare – Robert Mugabe, die president van Zimbabwe, het vir die agtste keer hierdie jaar vir mediese behandeling na Singapoer gevlieg en kommernisse oor sy gesondheid ontlok, het ‘n regeringsbeampte gesê.
Die beampte, wat anoniem wou bly, het gesê Mugabe en Grace, sy vrou, het Maandag van Harare na Johannesburg gevlieg waar hulle ‘n vlug na Singapoer gehaal het. Hy sal glo teen Sondag weer terug in die land wees.
Terwyl die amptelike rede vir die besoek ‘n oogoperasie is, doen gerugte die ronde dat Mugabe prostaatkanker het.
Sy woordvoerder het geweier om kommentaar te lewer.
Vroeër vandeesweek het Mugabe ‘n besoek aan Genève vir ‘n vergadering van die Verenigde Nasies gekanselleer omdat die visums vir sy vrou en sekere senior beamptes geweier is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA