Mugabe se gesondheid 'n faktor in verkiesing
2012-01-29 12:14
Harare – Vrese oor die gesondheid van Zimbabwe se president, Robert Mugabe, moedig sy ondersteuners aan om hulle te beywer vir 'n vroeë verkiesing om 'n einde te bring aan dié land se eenheidsregering, het Morgan Tsvangirai, die premier, aan die nuusagentskap AFP gesê.
Die 87-jarige Mugabe, Afrika se oudste staatshoof, wil 'n verkiesing in 2012 hê ná drie jaar van spanning in die eenheidsregering tussen hom en Tsvangirai, wat ná die verkiesing in 2008 tot stand gekom het.
"'n Mens kan sien hulle het min tyd oor vir hulle kandidaat. Pres. Mugabe se gesondheid is definitief 'n groot bekommernis vir Zanu-PF," het Tsvangirai gesê oor dié party se hernude ywer om 'n verkiesing te hou.
"Hulle is bekommerd oor die onenigheid in die party; daar is geen samehorigheid in die party nie. Hulle is te bekommerd oor magsbehoud en nie oor wat hulle kan doen vir die mense van Zimbabwe nie."
Tsvangirai wil sekere hervormings deurvoer voor die land weer 'n verkiesing hou, terwyl Zanu-PF hard druk vir 'n verkiesing wat Mugabe se posisie vir die volgende paar jaar kan versterk.
"Hy is 'n ou man; hy word nie jonger nie en ek dink sy hoë ouderdom word al hoe duideliker sigbaar. Daar is beslis nie fout met sy vermoë om te dink nie, ek dink nie sy brein makeer enigiets nie. Maar sy ouderdom word 'n duideliker faktor, sy liggaam is broos," het Tsvangirai gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP