Mugabe kap Britte oor 'onreg'
2011-12-09 07:01
Bulawayo – Ondanks duisende Zimbabwiërs wat swoeg onder die juk van armoede, het pres. Robert Mugabe gister hier sy openingstoespraak gewy aan die onreg wat die Britte Zimbabwe aangedoen het.
Sowat 4 000 lede van Zanu-PF het opgedaag vir die jaarlikse konferensie waar Mugabe benoem sal word as presidentskandidaat vir volgende jaar se verkiesing.
Die spoggerig 4x4s en Duitse sedans by die Zimbabwe-handelskougronde het daarvan getuig sommige geniet wel die vrugte van vryheid.
Maar meestal is die konferensie bygewoon deur middeljarige Zimbabwiërs wat hul uitgewaste Zanu-PF-hemde met Mugabe se gesig op vir die geleentheid gedra het.
Daar was net ’n grootskaalse gesing sodra die TV-kameras op hulle gefokus het, maar verder was die skare stil en bedees.
Mugabe het die kolonialiste geblameer vir die probleme wat Zimbabwe nou in die gesig staar.
“Daar bestaan nie iets soos ’n goeie kolonialis nie. Die enigste goeie kolonialis is ’n dooie een,” het hy aan die skare gesê.
“As ons die grond vat, is dit Brittanje se verantwoordelikheid om daarvoor te betaal (want hulle het die Lancaster-huis ooreenkoms verbreek).”
Mugabe het ook heelwat tyd afgestaan aan die konflik in Libië wat geëindig het met die dood van die Libiese leier, kol. Muammar Gaddafi.
Hy het egter erken ’n deel van die skuld moet voor Afrikalande se deur gelê word.
“Afrikalande was swak, verdeeld en stadig met die Libië-kwessie,” het hy gesê.
“Ons het hom gevra om in Afrika te belê, en hy het ’n paar kamele vir ’n paar lande gegee. Ons hier in Zimbabwe het vier kamele gekry.”
Mugabe het verduidelik waarom daar nou ’n program ingestel is om 51% van mynmaatskappye in plaaslike hande te sit.
“Ons het die mynwese toegelaat om aan te gaan sonder om bemagtiging in te stel, want ons was besig met die grondkwessie.”
Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het die konferensie bygewoon omdat die party historiese bande met Zanu-PF het.
Hy het Suid-Afrika se hulp aangebied met hul verkiesing volgende jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger