Mugabe dreig met nasionalisasie
2010-12-17 22:51
Harare- President Robert Mugabe het Vrydag tydens 'n konferensie van die Zanu-PF-party, gesê Britse en Amerikaanse maatskappye sal genasionaliseer word, indien sanksies teen Zimbabwe nie opgehef word nie.
"Hoekom moet ons voortgaan om toe te laat dat 400 Britse maatskappye vrylik hier besigheid doen?," het Mugabe aan 4 000 Zanu-PF-lede in Mutare, wat in die ooste geleë is, gesê.
"En hoekom moet ons maatskappye en organisasies hier hê wat deur Brittanje en Amerika ondersteun word, sonder dat ons terug slaan?"
"Die tyd vir wraak het aangebreek," het hy gesê, in verwysing na die wette wat die president toelaat om maatskappye oor te neem.
"Ons kan hulle waarsku en sê, hier het ons nou 51% en ons gaan 100% vat as daar met sanksies voortgegaan word," het Mugabe bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.