Mugabe dalk ernstig siek
2009-08-26 09:03
Johannesburg – Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, is in ‘n Dubaise kliniek opgeneem.
The Times berig Mugabe (85) is Sondag in die geheim na die kliniek geneem vir behandeling deur ‘n spesialis.
Die Zimbabwiese leier word glo behandel deur ‘n Maleisiese uroloog, Awang Kechik. Dié spesialis behandel Mugabe al vir ‘n geruime tyd vir ‘n prostaatprobleem.
Zimbabwiese amptenare het egter Woensdag die gerugte as "onsin" beskryf. Volgens die amptenare was die president met vakansie, het Reuters berig.
In ander nuus het pres. Jacob Zuma gesê hy sal dié week ‘n besoek aan Zimbabwe aflê om ‘n toespraak by die landbou-handelsmark te gee.
Dit sal sy eerste besoek aan Zimbabwe wees sedert hy president geword het in Mei van die jaar.
Die besoek kom ‘n week nadat hy en Zimbabwe se eersteminister, Morgan Tsvangirai, in Johannesburg ontmoet het.
Zuma het gesê hy sal “gewigtige sake” rondom magsbedeling in Zimbabwe met Mugabe bespreek.
‘n Woordvoerder vir Mugabe, Zingaphi Jakuja, het gesê Zuma se besoek aan Zimbabwe is slegs om die handelsmark offisieël te open.