Mugabe: WB sal demokrasie, vrede in Afrika wys
2010-05-26 13:04
Harare – Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, wie se leierskap van 30 jaar deur politieke onrus gekenmerk word, het gesê dat die Wêreldbeker-sokkertoenooi sal wys hoe Afrika na vrede en demokrasie beweeg.
“Die 2010 Wêreldbeker is inderdaad ‘n geleentheid vir ons om aan die wêreld te bewys dat Afrika meer is as die stereotipe van ‘n kontinent wat met verdeeldheid, siekte en armoede deur die modder gesleep word,” het hy Dinsdag by ‘n gebeurtenis gesê wat Afrika Dag vier.
"Ja, ons het ons uitdagings en tekortkominge, soos mense in ander plekke ook. Maar ten spyte van dié uitdagings bly ons verenig deur ons gemeenskaplike wilskrag om ‘n vreedsame en demokratiese kontinent te bou wat geen armoede of siekte het nie,” het hy gesê.
Terwyl etniese en godsdienstige verskille konflik in Afrika veroorsaak het, het sokker, meer as enige ander sport, mense gehelp om verby hulle verskille te kyk, meen hy.
Zimbabwe het glo gehoop om sekere spanne wat vir die toernooi Suid-Afrika toe kom, te lok.
Sover het slegs Noord-Korea aangetoon dat hul dalk voor die toernooi in Zimbabwe sal oefen.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.