Mugabe: Rondslapende ministers versprei MIV
2011-09-07 17:58
Harare – Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het manlike regeringsbeamptes daarvan beskuldig dat hulle “van een vrou na ‘n ander hardloop” en sodoende MIV versprei, het staatsmedia Dinsdag berig.
“Ons mans is nie tevrede met een vrou nie, al weet hulle dat hulle MIV-positief is,” het Mugabe tydens ‘n MIV/Vigs-konferensie in Harare gesê.
“Ek weet van gevalle waar mans, al gebruik hulle antiretrovirale (ARV-) medisyne, van een vrou na ‘n ander hardloop.”
Ten minste een uit elke sewe Zimbabwiërs is glo met die MIV-virus besmet.
Thokozani Khupe, die adjunkpremier, het verlede week planne bekend gemaak om alle manlike ministers in die kabinet te laat besny in ‘n poging om mans in dié land aan te moedig om dit ook te laat doen.
Navorsing het bewys dat besnydenis, wat nie algemeen in die suide van Afrika is nie, MIV-besmettingsyfers met 60% verminder.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA