Mubarak-seun moontlik by geldwassery betrokke
2011-10-17 16:51
Kaïro – ‘n Senior beampte van die Egiptiese departement van justisie het gesê dat twee van Hosni Mubarak, die voormalige president van Egipte, se seuns ‘n geskatte $340 miljoen (sowat R2.6 miljard) in Switserse rekeninge het.
Switserse owerhede is besig om te ondersoek of Alaa, een van die seuns, by geldwassery betrokke was, het Assem al-Gohary gesê. Mubarak en beide sy seuns is van korrupsie aangekla.
Switserland het reeds die bates van Mubarak en sy bondgenote gevries. Al-Gohary het gesê dat die meerderheid van daardie bates aan die twee seuns behoort.
Egipte se prokureur-generaal het alle bates van die voormalige presidensiële familie op 20 Februarie gevries net na die 18 dae lande opstand teen Mubarak se regering.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP