Mubarak se verhoor begin
2011-08-03 10:47
Kaïro – Vyf maande nadat ‘n opstand sy 30 jaar lange heerskappy in Egipte tot ‘n einde gebring het, gaan Hosni Mubarak, die voormalige president van Egipte, in 'n hof verhoor word op onder meer aanklagte van moord en korrupsie.
“Mubarak word per ambulans na die lughawe in Sharm el-Sheikh vervoer, vanwaar hy dan na Kaïro sal gaan,” het die staatstelevisie berig.
Die voormalige president (83) gaan in die hof van die polisie-akademie in Kaïro verskyn saam met Alaa en Gamal, sy twee seuns, tydens een van die land se grootste veiligheidsoperasies.
Die verhoor sal in ‘n ouditorium gehou word. Die beskuldigdes, insluitend Habid al-Adly, die vorige minister van binnelandse sake, wat ‘n groot rol in die onderdrukking van die opstand gespeel het, en ses polisie-bevelvoerders, sal in 'n sel in die vertek aangehou word.
Die beskuldigdes het glo miljoene rande by die regering gesteel en betogers laat vermoor in ‘n poging om die opstand teen Mubarak se regering te stop.
Meer as ‘n 1 000 soldate en polisiebeamptes sal die perseel beveilig. Joernaliste het ook toestemming gekry om die verhoor by te woon.
Mubarak sal ook, glo op sy eie aanbeveling, die familie van betogers wat tydens die opstand dood is, ontmoet.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP