Mubarak se top-raadgewer in tronk
2011-04-08 09:47
Kaïro - 'n Voormalige top-raadgewer van die ontsetelde president Hosni Mubarak van Egipte is in hegtenis geneem tydens ‘n korrupsie-ondersoek.
Hy is een van die beamptes met die hoogste range wat sover gearresteer is sedert Mubarak in Februarie na die opstand teen hom as president bedank het.
Zakariya Azmi, die voormalige hoof van personeel, word daarvan beskuldig dat hy sy posisie gebruik het om vir homself ‘n fortuin te maak, het Assem al-Gawhari, die aanklaer, gesê. Azmi sal 15 dae in die tronk spandeer terwyl die ondersoek voortduur.
Egiptiese aanklaers het menigte voormalige top-beamptes uit Mubarak se regering verbied om te reis of in hegtenis geneem sedert betogers Mubarak se regime omvergewerp het na ‘n 18 dae lange opstand.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP