Mubarak-saak nie meer uitgesaai
2011-09-05 12:33
Kaïro – Hosni Mubarak, die voormalige president van Egipte, se hofsaak gaan nie, soos met die vorige twee sessies, regstreeks uitgesaai word nie.
Die hofsaak gaan Maandag voort, met verskeie getuies wat advokate sal help om vas te stel wie die bevel gegee het dat honderde betogers tydens die opstand vroeër vanjaar vermoor moet word.
Die besluit om die regstreekse televisie-uitsending van die hofsaak te staak is deur regter Ahmed Refaat gemaak. Hy was glo nie beïndruk met die gelaaide atmosfeer in die hof tydens die vorige sessies nie.
Mubarak se dramatiese verskyning in die hof – hy is op ‘n bed ingedra en in ‘n sel gehou – het glo Egiptenare geskok omdat niemand geglo het dat hy werklik voor die hof gedaag sou word nie.
Na die verdaging van die vorige sessie op 15 Augustus het familie van slagoffers en van die advokate glo geëis dat Mubarak tereggestel word.
Duisende polisiebeamptes is ook ontplooi saam met gepanserde voertuie om te verhoed dat ondersteuners en vyande van Mubarak met mekaar bots.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP