Mubarak op bed, agter tralies tydens verhoor
2011-08-03 10:50
Kaïro – Hosni Mubarak (83), die voormalige president van Egipte, het op ‘n bed binne ‘n sel in die hof gelê tydens sy verhoor in Kaïro.
Hy staan tereg op aanklagte van onder meer korrupsie en die moord op betogers tydens die opstand wat sy regering omvergewerp het.
Die hofsaak word regstreeks op staatstelevisie uitgesaai en dit is die eerste keer wat die publiek hulle vorige president kan sien sedert hy die tuig op 10 Februarie neergelê het.
Mubarak se twee seuns, Gamal en Alaa, wat ook aangekla is, het langs sy bed in die sel gestaan. Mubarak en die nege ander mense wat saam met hom verhoor word, het elkeen ‘n wit tronkuniform aangehad.
Buite die polisie-akademie waar die hofsaak plaasvind, het honderde van Mubarak se ondersteuners en teenstaanders saamgedrom.
Sowat ‘n duisend polisiebeamptes en soldate is op die toneel om te verseker dat chaos nie uitbreek nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP