'Mubarak is geen tiran'
2012-01-17 16:57
Kaïro – Hosni Mubarak was “net ‘n man, nie ‘n tiran nie” en sy aanklaers het geen bewyse dat hy beveel het om opstandiges dood te maak nie.
Só het die voormalige Egiptiese president se regsverteenwoordiger, Farid el-Deeb, Dinsdag in die hof gesê.
“Daar is geen manier dat Hosni Mubarak, wat van moord en misbruik van mag beskuldig word, dieselfde is as die Hosni Mubarak wat ek nou gaan beskryf nie,” het Deeb gesê terwyl hy herhaaldelik harder gepraat en sy vuiste in die hof geskud het.
“Hy is ‘n man met skoon hande en ‘n suiwer hart.”
Aanklaers het vroeër geëis dat die ontsetelde leier die doodstraf opgelê word.
Mubarak (83) is, soos met vorige hofverskynings, op ‘n hospitaalbed by die hof ingestoot.
Meer as 850 mense het verlede Februarie in 18 dae se betogings teen sy regime gesterf. Sedertdien regeer die weermag oor die land.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters