Mubarak en seuns word strafregtelik verhoor
2011-05-25 08:24
Kaïro - Hosni Mubarak, die voormalige Egiptiese president, en sy twee seuns sal strafregtelik verhoor word vir die sterftes van teen-regeringsbetogers in die onlangse rewolusie in die land, het die aanklaer gesê.
Mubarak (83) en sy seuns, Alaa en Gamal, is aangekla vir die voorafbeplande moord op deelnemers aan vreedsame betogings tydens die Egiptiese rewolusies in Januarie, die misbruik van mag om ryk te word en die aanvaarding van omkoopgeld.
‘n Datum vir die hofsaak is nog nie bekend gemaak nie. Die aanklaer-generaal se woordvoerder het egter gesê dat aanklagtes teen Mubarak vir sy vermeende rol in die moord op betogers met die dood gestraf kan word.
'n Vierde beskuldigde, die sakeman Hussein Salem, staan ook tereg op die korrupsie-aanklagte.
Salem is egter soek nadat hy uit die land gevlug het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP