Mosambiek botsing eis 10 lewens
2009-07-14 09:07
Cabo Delgado, Mosambiek - Tien mense is dood en 34 ernstig beseer toe 'n minibus en 'n vragmotor in Cabo Delgado, 'n noordelike provinsie van Mosambiek, gebots het.
Die ongeluk het 05:00 Maandagoggend by die afrit by Silva Macua en Pemba gebeur. Dit is meer as 300km noord van die hoofstad Maputo en 80km van Pemba.
Mnr. Impasse Abdul, die hoof van kliniese dienste by Pemba provinsiale hospitaal, het aan die onafhanklike dagblad, O Pais, gesê dat tien mense op die toneel dood is terwyl 34 beseer is. Sewe van hulle is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem.
Volgens die dagblad was daar 39 mense in die minibus. Dié voertuig se kapasiteit is 30.
Die vragmotor wat meelsakke vervoer het, het sewe passasiers bo-op die sakke gehad en nog vier voor in die vragmotor.
Volgens Abdul het die hospitaal gesukkel om die groot hoeveelheid beseerdes te hanteer as gevolg van beperkte hulpbronne.
- Sapa