Mosambiek: Toeriste se veiligheid onder loep
2010-04-13 13:35
Maputo – Owerhede in Mosambiek sal na verwagting Dinsdag in Inhambane vergader om die kwessie rondom die veiligheid van toeriste te bespreek ná verskeie aanvalle op Suid-Afrikaners in die land, het ‘n toerisme-organisasie gesê.
“Ná die onlangse aanvalle en rooftogte op toeriste wat die Inhambane-provinsie besoek het, het die goewerneur van Inhambane ‘n dringende vergadering met toerisme-operateurs versoek,” het die toerismevereniging van Inhambane gesê.
“Ons vereis dat iets omtrent die probleem gedoen moet word,” het Erwin Jakes, president van die vereniging, gesê.
Die Inhambane-provinsie, in die suide van Mosambiek, is ‘n gewilde vakansieplek vir Suid-Afrikaners. Baie Suid-Afrikaanse toerismeagente werk ook in die streek.
Die Suid-Afrikaner Leon Scott (51), en sy familie is vroeg Sondagoggend aangeval en beroof terwyl hulle by ‘n oord in Morrumbene naby Inhambane vakansie gehou het, het The Mercury Maandag berig.
Twee gewapende mans het Scott, sy vrou Vanetia (44), hul twee jong dogters en twee neefs, Victor Khan (22) en Bevil Mellem (35) vasgebind.
Hulle het ook ‘n ander Suid-Afrikaanse paartjie en hul twee dogters vasgebind, asook die oord se Suid-Afrikaanse bestuurder en sy vrou, werkers en sekuriteitswagte.
Hulle het met ‘n onbekende bedrag geld, elektroniese toerusting en ‘n Toyota Land Cruiser weggekom.
Die polisie het die motor later naby Morrumbene gevind.
Verlede Maandag is ‘n ander groep van drie families aangeval en aangerand in Chissibuca. Een vrou is ook verkrag, het Die Burger berig.
Die mans is glo van die vrouens geskei, en in ‘n badkamer toegesluit, waar die rowers probeer het om hulle te vergas.
- Sapa