Miljoene kinders vir masels ingeënt
2011-05-23 10:21
Marracuene - Mosambiek beplan om binne die volgende vyf dae 3,6 miljoen kinders teen masels in te ent in ‘n poging om sterftes teen die einde van 2012 met 98% te verminder, het ‘n beampte van die Verenigde Nasies gesê.
Dit sal dié land nader aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se doelwit bring om die maselsdoodsyfer met 98 % te verminder. Die doelwit is deur 46 sub-Sahara-lande geteken.
“Hierdie veldtog het Mosambiek in ‘n posisie gesit waar die land moontlik die eerste sub-Sahara-land kan wees wat die 2012-doel sal bereik,” het Andrea Gay, die hoofdirekteur van kindersgesondheid by die VN-stigting, gesê.
Gesondheidsbeamptes gaan kinders onder vyf jaar van oor die land heen vanaf Maandag tot Vrydag inent. Dit is deel van ‘n $4.5 miljoen (sowat R31 miljoen) veldtog.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP