Mosambiek: 800 deur vloede vasgekeer
2010-03-11 22:46
Maputo – Ongeveer 800 mense moet gered word nadat hulle deur stygende vloedwaters in Mosambiek vasgekeer is, het owerhede gesê.
Volgens Mosambiek se Nasionale Rampbestuur is drie distrikte in sentraal Zambezi reeds afgesny weens die vloede.
Die 800 mense wat gered moet word is sedert Dinsdag al vasgekeer.
Die regering is tans besig om sowat 130 000 mense wat op die walle van drie hoof-riviere in Mosambiek woon, te ontruim, nadat die vloed-waarskuwing Dinsdag na rooi (baie ernstig) verander is.
Twee mense is in die vloede dood wat dié gebied sedert einde Februarie teister.
Volgens Luis Pacheco, ‘n beampte van rampbestuur, kan die situasie vererger wanneer sekere van die vloedhekke van damme oopgemaak gaan word, insluitend die een in Zambië.
- Sapa-AP