Moordaantygings weer op Rwandese president gerig
2011-10-05 12:23
Kigali – Paul Kagame, die Rwandese president, is deur ‘n voormalige bondgenoot daarvan beskuldig dat hy 'n rol gespeel het in die dood van 'n vorige president van Rwanda, wat in 1994 aanleiding gegee het tot die menseslagting in dié land, het die BBC berig.
Kagame het volgens Theogene Rudasingwa in 1994 die opdrag gegee dat die vliegtuig van Juvenal Habyarimana, die destydse president, afgeskiet word.
“Deur daardie misdaad te pleeg, het Kagame ‘n aandeel in die menseslagting wat in die land gebeur het,” het Rudasingwa aan die BBC gesê.
Kagame het herhaaldelik ontken dat hy by die voorval betrokke was.
Rudasingwa, wat in die VSA woon, en Kagame se paaie het ná 'n twis, geskei.
Rudasingwa is in Maart in absentia tot 24 jaar tronkstraf gevonnis vir die bedreiging van staatsveiligheid en die bevordering van etniese konflik.
– Lees die volledige artikel op BBC News.
– Volg Nuus24 op Twitter.