Moontlike verbod op Zim-diamanthandel
2009-11-01 12:16
Windhoek - 'n Moontlike internasionale verbod op die handel in diamante afkomstig van Zimbabwe sal na verwagting dié week op die agenda wees wanneer die internasionale liggaam wat die handel in sogenaamde bloeddiamante moet verhoed, die Kimberley-proses, vergader.
Burgerregtegroepe wat deel vorm van die Kimberley-proses eis 'n verbod op Zimbabwe se internasionale diamanthandel, op grond van menseregtevergrype in die oostelike Marange-diamantvelde.
'n Kimberley-ondersoek in Julie het glo bewyse gevind van "onaanvaarbare en afgryslike geweld teenoor burgerlikes deur owerhede" in Marange.
Dit volg na maande se gerugte van moord, gedwonge afsettings en ander menseregtevergrype deur die weermag in dié gebied naby die grens van Mosambiek.
Die Kimberley-proses, vernoem na die Suid-Afrikaanse myndorp, is in 2003 in die lewe geroep om die vloei van sogenaamde bloeddiamante te keer.
In Zimbabwe se geval het die weermag beheer oorgeneem van die Marange-diamantvelde, wat volgens berigte 'n belangrike bron van inkomste is vir pres. Robert Mugabe se ZANU-PF-party.
- SAPA