‘Moenie toegee aan Zim-eis’
2009-10-13 09:46
Sarel van der Walt
Terwyl Australië gister miljoene rande se hulp aan Zimbabwiese boere aangekondig het, het Agri SA die Suid-Afrikaanse regering gevra om nie toe te gee aan ’n eis van die Zimbabwiese regering nie.
Pres. Robert Mugabe se regering wil grond uitsluit van ’n voorgenome ooreenkoms oor bilaterale beleggings met die Suid-Afrikaanse regering.
Agri SA het gesê die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die Mugabe-regering se eis sal “ ’n belangrike sein aan plaaslike grondeienaars stuur oor die Suid-Afrikaanse regering se bereidwilligheid om hul belange hier en in streekverband te respekteer en te beskerm,” het Johannes Möller, president van Agri SA, in ’n verklaring gesê.
Die regering moenie swig deur ’n ooreenkoms met Zimbabwe te teken “wat swyg oor die regstelling van grondvergrype en oor billike regte rakende grondbesit nie”, het hy gesê.
John Courtney, Australië se hoë kommissaris in Harare, het gister aangekondig sy land gaan $7 miljoen (sowat R52 miljoen) aan die Wêreldbank se voedselkrisisprogram skenk om boere in Zimbabwe te help. Dit is volgens Courtney ’n belangrike eerste stap om Zimbabwe te help om sy graanproduksie te herstel.
Tot 17 nie-regeringsorganisasies in Zimbabwe sal help om saad aan arm boere te versprei voordat die plantseisoen begin.
Intussen heers groot verontrusting in die oorblywende kommersiële landbousektor in Zimbabwe oor ’n “geheime dokument” waarin dié land se minister van grond en landelike vestiging goedkeuring van die kabinet vra om sy beslaglegging op plase voort te sit weens die “toenemende vraag na grond”.
Landbouweekblad, sustertydskrif van Beeld, berig Zimbabwe se kommersiële boere-unie (CFU) het dié land se regering al einde Augustus gevra om kommentaar oor die dokument se egtheid, maar nog geen antwoord gekry nie.
In dié dokument word glo ook voorgestel dat geen buitelanders grond in Zimbabwe mag besit nie en dat sulke grond uitgesluit word van ooreenkomste wat beleggings beskerm.
Möller het gesê Zimbabwe pleit om buitelandse beleggings en die Suid-Afrikaanse regering hét al die internasionale gemeenskap gevra om gehoor te gee.
“Daar is egter talle Suid-Afrikaanse boere en sakemanne wie se eiendom die Mugabe-regime sonder vergoeding gekonfiskeer het. Dit moet eers reggestel word voordat om beleggings gevra word.”
- Beeld