Minister van DRK sterf
2009-10-01 14:20
Kinshasa – Andre-Philippe Futa, die minister van ekonomie en buitelandse handel in die Demokratiese Republiek van die Kongo, het Woensdagaand op die ouderdom van 63 in Parys gesterf, het sy kollegas Donderdag in Kinshasa gesê.
Futa “is in sy slaap dood” in ‘n hotel in Parys, het Crispin Kalala Mpotoyi, die tussentydse president van die Party of the National Alliance for Unity (PANU), wat in 2004 deur Futa gestig is, gesê.
Volgens Kalala het Futa in Parys oorgebly nadat hy die DRK by ‘n vergadering van Suid-Amerikaanse en Afrika lande in Venezuela verteenwoordig het.
Die minister sou Donderdag terugkeer na Kinshasa.
Futa is ‘n boorling van die diamant-ryk sentraal Kasai Oriental-provinsie en het ‘n sleutelrol gespeel in president Joseph Kabila se oorwinning by die verkiesings in 2006.
Hy het eers in 2001 saam met Kabila begin werk, drie maande nadat laasgenoemde as president verkies is om sy vermoorde pa, Laurent-Desire Kabila, te vervang.
Futa het in 2002 die minister van ekonomie geword, sowel as van industrie, klein en medium besighede en finansies.
Hy is in 2007 as ‘n senator verkies in Kasai Oriental en was minister van ekonomie van die regering van Antoine Gizenga.
- Sapa - AFP