Minister: Zimbabwe kan nie voedsel vervoer nie
2011-03-22 09:21
Harare - Zimbabwe het nie geld om kos na omgewings met ernstige voedseltekorte te vervoer nie, het Joseph Made, minister van landbou, gesê.
Die land wil 270 000 ton graanreserwes aan provinsies stuur wat die ergste deur droogtes getref is en waar 1,7 miljoen mense hulp nodig het.
Die Graan Bemarkingsraad het egter nie geld om dit te doen nie, het die Herald, wat deur die staat besit word, berig.
“Die amptelike instruksies is twee weke gelede deur die kabinet aan ons gegee,” het Made gesê.
Die droogte in Zimbabwe het ses van sy tien provinsies met ernstige voedseltekorte gelaat.
Sedert president Robert Mugabe in 2000 begin het om kommersiële plase wat deur wit boere besit is, oor te neem, sukkel die land om vir homself voedsel te verskaf en hou produksie aan val.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters