Miljoene in 2011 aan seerowers betaal
2012-02-23 13:05
New York – Die Verenigde Nasies het gesê losprysgeld van $170 miljoen (sowat R1,3 miljard) is verlede jaar aan seerowers in Somalië betaal. Dít is meer as die $100 miljoen (sowat R768 miljoen) wat in 2010 aan seerowers betaal is.
Die gemiddelde losprys wat geëis word om 'n skip en sy bemanning vry te laat, staan op $5 miljoen (sowat R38 miljoen) en $10 miljoen (sowat R 76 miljoen) vir 'n tenkskip, het die VN se kantoor teen dwelms en misdaad (UNODC) aan die VN se Veiligheidsraad, tydens 'n debat oor seerowery aan die kus van Somalië, gesê.
Yuri Fedotov, uitvoerende direkteur van UNODC, het gesê geldwassery van losprysgeld het veroorsaak dat die pryse in die Horing van Afrika en omliggende streke verhoog word.
Fedotov het gesê hy is nie bewus van enige ideologiese verband tussen seerowers en insypelaars van al-Shabaab nie. Die insypelaars veg teen die internasionaal gesteunde regering in Mogadisjoe.
Volgens die UNODC, wat saam met lande werk in die stryd teen seerowery, is daar tans 1 116 jong Somaliese mans wat deur howe in 20 lande wêreldwyd vir seerowery vervolg word.
Fedotov het gesê nóg 688 seerowers word in Afrikalande soos Kenia, Somalië, die Seychelle, Tanzanië en Mauritius vervolg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP