Militêre aanval dood 17 in Nigerië
2011-07-11 11:26
Maiduguri – Altesaam 17 mense, insluitend ‘n 13-jarige seun, is dood tydens ‘n militêre aanval teen ‘n radikale Moslem-sekte in die noordooste van Nigerië, het ‘n militêre beampte Sondag gesê.
Maj.genl. Jack Nwachukwu Nwaogbo het gesê ‘n 13-jarige seun, vyf mans en 11 verdagte lede van ‘n radikale sekte, bekend as Boko Haram, het Saterdagaand in die aanval gesterf.
Hy wou egter nie sê hoe hulle dood is nie.
Usman Abdullahi, die broer van een van die slagoffers, het gesê dat soldate mense vir ure in die strate rondgejaag en op hulle geskiet het. Die soldate het die mense glo daarvan beskuldig dat hulle lede van die sekte is.
Nwaogbo het gesê veiligheidsmagte het ‘n soektog geloods nadat twee verdagte lede van die sekte patrollievoertuie met tuisgemaakte bomme vanaf ‘n bewegende bus gegooi het. Die ontploffing het glo vyf soldate beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP