Meer as 1 500 gevalle van ingewandskoors behandel
2012-02-01 19:00
Harare – Minstens 50 gevalle van ingewandskoors word daagliks in Zimbabwe aangemeld en meer as 1 500 mense is reeds vir die siekte, wat op swak sanitasie en waterfasiliteite geblameer word, behandel, het die minister van gesondheid Dinsdag gesê.
"Teen die einde van Desember 2011 is meer as 1 500 gevalle aangemeld en behandel," het Henry Madzorera tydens 'n nuuskonferensie in Harare gesê.
"'n Gemiddelde van 30 tot 50 nuwe gevalle word op 'n daaglikse basis aangemeld."
Die bakteriële virus word deur besmette kos en water versprei. Sedert die huidige uitbreek verlede jaar in Oktober begin het, is daar 350 vermoedelike gevalle van die siekte en 16 bevestigde gevalle binne die eerste drie weke van 2012 aangemeld.
Geen sterftes is tot dusver aangemeld nie.
Sommige woonbuurte gaan vir weke sonder lopende water, met Zimbabwiese munisipaliteite wat sukkel met dienslewering.
Stadsowerhede in Harare het gesê hulle kan nie aan al die inwoners in die stad water voorsien nie.
Damme en watersuiweringsaanlegte dateer terug voor Zimbabwe se onafhanklikheidwording in 1980 en kan nie byhou met die spoed waarteen die bevolking groei nie.
Vier jaar gelede het meer as 4 000 mense weens 'n uitbreek van cholera gesterf .
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP