Marokkane stem ná grondwetlike hervorming
2011-11-25 09:30
Rabat – Marokkane kan Vrydag stem in die eerste verkiesing in die land sedert die hervorming van die grondwet in Julie wat die rol van die parlement en die premier versterk, goedgekeur is.
Meningspeilings word nie toegelaat nie, maar waarnemers meen die opposisie, die Regs- en Ontwikkelingsparty, sal goed vaar na ‘n soortgelyke sukses deur ‘n Islamitiese party in Tunisië se eerste demokratiese verkiesings sowat ‘n maand gelede.
Dié party se grootse teenstander is die Koalisie vir Demokrasie – ‘n koalisie wat uit agt pro-monargie-partye bestaan, insluitend twee van die huidige vyf regerende partye.
Altesaam 31 partye sal meeding vir die 395 setels in die laer huis van die parlement. Dit is 70 meer setels as in die vorige verkiesing in 2007.
‘n Sekere aantal van die setels word vir vroue en jonger beamptes gehou in ‘n poging om die laer huis, wat tot dusver deur openbare figure gedomineer is, ‘n meer moderne beeld te gee.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP