Mali: 'Barbaarse' ekstremiste moor, verkrag
2012-10-18 07:32
Bamako, Mali – Die optrede van Islamitiese ekstremiste wat die noorde van Mali die afgelope paar maande beheer, raak toenemend gewelddadig, het vlugtende inwoners gesê.
Die ekstremiste, wat 'n streng weergawe van die Islamitiese Sharia-wet toepas, hou egter self nie by die bepalings van dié wet nie.
"Hulle raak regtig meer en meer barbaars. Hulle vermoor, hulle verkrag, en niemand doen enigiets om hulle te stop nie," het ene Oumar, 'n student, Woensdag in die hoofstad Bamako aan die AFP-nuusagentskap gesê. Hy het per bus in die stad aangekom vanuit die noord-oostelike dorp Gao.
"Hulle het my suster gedwing om te trou, en 'n maand later het haar man van haar geskei. Hierdie barbare trou om 'n goeie tyd te hê, en wanneer hulle klaar is, gooi hulle die vrou weg," het hy bygevoeg.
Mali, wat eens een van die mees stabiele demokrasieë in Afrika was, het in 'n chaos verval sedert 'n staatsgreep op 22 Maart wat pres. Amadou Toumani Toure ontsetel het.
Islamitiese ekstremistegroepe, insluitend Al-Kaïda se tak in Noord-Afrika, het die magsvakuum gebruik om die land se groot noordelike woestynstreek oor te neem.
In die maande sedert die staatsgreep het dié ekstremistegroepe vroue sonder sluiers in hegtenis geneem, 'n ongetroude paartjie met klippe doodgegooi, rokers in die openbaar lyfstraf toegedien en vermeende diewe se hande afgekap.
"Wat gebeur is ernstig," het die pa van 'n familie gesê wat saam met Omar gereis het. "Die Islamiete sê hulle is ten gunste van Sharia maar hulle drink en rook self. Party van hulle gebruik selfs dwelms."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP