Malawi se kabinet ontbind
2011-08-20 12:19
Blantyre – Malawi se president, Bingu wa Mutharika, het al 42 ministers in sy kabinet in die pad gesteek en alle portefeuljes self oorgeneem.
Dié stap volg enkele weke ná 'n dodelike protesaksie teen sy regering wat 19 lewens geëis het.
"Die president is nou tot verdere kennisgewing in beheer van al die portefeuljes," het 'n verklaring gelui wat Vrydagaand deur die presidensie en die sekretaris van die kabinet, Bright Msaka, uitgereik is.
Geen rede is vir die afdanking van die kabinetslede gegee nie.
Mutharika loop onder kritiek deur as gevolg van gereelde brandstof- en valutatekorte in sy land en word ook daarvan beskuldig dat hy sy burgers se demokratiese regte misken.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP