Malawi: Kerkleiers praat oor homoseksualiteit
2010-03-18 18:38
Blantyre, Malawi – Kerkleiers het in Malawi vergader om die idee van paartjies van dieselfde geslag te probeer verstaan.
Dít kom dae vóór ‘n vonnisoplegging wat twee homoseksuele mans tot 14 jaar tronkstraf kan oplê.
Aartsbiskop Joseph Bvumbwe, hoof van Malawi se raad van kerke, het gesê die leiers het Woensdag in die suide van die stad Mangochi vergader om oor homoseksualiteit te gesels. Baie mense in Malawi verstaan nie hierdie kwessie nie, het hy gesê.
Landdros Nyakwawa Usiwa-Usiwa sal Maandag in die saak van Steven Monjeza (26) en Tiwonge Chimbalanga (20) uitspraak lewer. Hulle is sedert 26 Desember in hegtenis nadat hulle ‘n verlowingseremonie in die publiek gehou het.
Homoseksualiteit is onwettig in die meeste sub-Sahara-Afrika lande.
Die arrestasies het menseregtegroepe in Malawi woedend gemaak, een van Afrika se armste lande.
- Sapa-AP