Madonna se drome vir skool ’n gemors
2011-08-08 07:48
Lilongwe – Die bouterrein waar Madonna se akademie vir meisies in Malawi opgerig sou word, lyk nou meer soos ’n uitgegrawe mynhoop as ’n skool wat beloof het om dokters en leiers vir dié arm land op te lei.
Die popster het in April verlede jaar ’n hoeksteen op die bouperseel ’n ent buite Lilongwe gelê wat gelui het: “Waag dit om te droom.”
Die bouwerk aan dié skool van $15 miljoen (meer as R100 miljoen) is kort daarna gestaak nadat probleme met verkwiste geld en ongelukkige inwoners aan die lig gekom het.
’n Jaar nadat die hoeksteen gelê is, is planne vir die oprigting van die skool stopgesit en werknemers wat ontslaan is, het die popster gedagvaar.
Haar liefdadigheidsorganisasie word ook weens belastingkwessies ondersoek en Malawi probeer vasstel hóé vir die grond betaal is.
Luidens ’n berig in The New York Times het Madonna ’n oudit aangevra wat onthul het dat $3,8 miljoen (sowat R26 miljoen) verkwis is.
Sy het in April gesê ’n nuwe strategie sal binne ’n paar weke aangekondig word.
Daar was groot ontevredenheid oor betaling vir die grond wat deur Madonna se liefdadigheidsorganisasie, Raising Malawi, via die regering betaal is.
Dit lyk of begunstigdes bygevoeg is.
Die inwoners wag nou op antwoorde oor hoekom hul velde verwoes is en daar nog geen teken van ’n enkele klaskamer is nie.
Tsiyent Foroyati (52), wat die grootste deel van die grond vir die skool vir ’n groot afslagprys verkoop het, moet nou grond huur vir haar landboubedrywighede.
“Selfs al is daar voortgegaan met die projek, sou ons steeds kwaad gewees het, want waar gaan ons nou plant?” wou Foroyati weet.
Madonna se organisasie wou nie kommentaar lewer nie, maar volgens ’n verklaring vroeër vanjaar is die projek om die skool op te rig afgestel sodat die geld eerder gebruik kan word om bestaande skole in die land te help.
Volgens die plaaslike hoofman, Binson Kalenga, word ’n kinderhuis nou op dié terrein beplan.
“Dit was ’n goeie idee en sy het goeie bedoelings gehad, maar die uitvoering daarvan het groot probleme veroorsaak.
“Ons het haar verwelkom as ’n Malawiese burger en ons is hartseer oor die gerugte dat die projek gestaak gaan word.
Ons dring daarop aan dat sy ons kom vertel wat gebeur het.”
– Sapa-AFP
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld