Madonna loop haar vas in Malawi
2011-08-18 12:57
Blantyre – ‘n Malawiese hof het Woensdag agt voormalige werknemers van 'n liefdadigheidsorganisasie wat deur die popkoningin Madonna gestig is, toestemming gegee om haar te dagvaar vir onregverdige afdanking.
Volgens Madonna het haar Raising Malawi-groep, wat gestig is met die doel om te fokus op onderwys in Malawi, die werknemers afgedank weens ernstige ekonomiese beperkinge.
Jack Nriva, die voorsitter van die arbeidshof, het Madonna se regsverteenwoordigers se argumente dat daar geen wettige redes vir regstappe is nie, van die hand gewys.
Madonna, wat twee Malawiese kinders aangeneem het, se organisasie is ook van wanbesteding beskuldig. Owerhede het intussen 'n ondersoek geloods om te bepaal hoe grond vir Raising Malawi verkry is.
Haar belofte om ‘n meisieskool van miljoene dollars te bou, is tot dusver nie nagekom nie. Madonna het vroeër die jaar gesê sy gaan eerder haar geld belê in ondersteuningsprogramme vir onderwys.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA