Maand oue Nigeriese babatjie kry salaris
2011-11-03 17:49
Kano – ‘n Babatjie van een maand oud, wat glo ‘n diploma het, is op die Nigeriese regering se betaalstaat en bewys hoe diep korrupsie in Nigerië se are vloei, het beamptes gesê.
Die naam van die babatjie is onlangs op die betalingsbewys van ‘n plaaslike regeringsraad in die noorde van Nigerië gevind. Die ontdekking is gemaak tydens ‘n poging om spook-werknemers in ‘n oorgrote werksmag te vang, het Garba Gajam, die kommissaris van justisie vir die Zamfara-staat, aan AFP gesê.
“Tydens die aangaande proses om betaalstate in die staat te verifieer, het ons uitgevind dat ‘n maand oue babatjie deel van die werknemers van ‘n plaaslike regering is en dat die babatjie elke maand ‘n salaris ontvang,” het Gajam gesê.
“Wat meer skrikwekkend is, is dat daar op die betaalstaat aangedui word dat die babatjie ‘n nasionale diploma het.”
Dit is glo ‘n algemene tendens vir regeringsbeamptes om hulle vroue en kinders se name op betaalstate te sit en sodoende meer geld te ontvang.
In Augustus is die naam van ‘n vyf maande oue babatjie op die betaalstaat van die plaaslike munisipaliteit van ‘n ander staat gevind, wat die ondersoek aangehits het.
Skuldiges sal die gesteelde geld moet terugbetaal en word deur vervolging vir die misbruiking van openbare fondse in die gesig gestaar.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP