MSF bevestig dood van personeel in Mogadisjoe
2011-12-30 10:56
Mogadisjoe – Die mediese noodlenigingsagentskap Dokters Sonder Grense het Vrydag bevestig dat twee van sy personeellede, 'n Belgiiese en 'n Indonesiese man, deur 'n gewapende groep in die oorloggeteisterde Somaliese hoofstad Mogadisjoe doodgeskiet is.
"Dis met groot hartseer wat Medecins Sans Frontieres (MSF – Dokters Sonder Grense) bevestig dat twee MSF-personeellede gister gedood is... as gevolg van 'n skietery by die organisasie se basis," het 'n verklaring gelui.
Philippe Havet, 'n 53-jarige nood-koördineerder van België, en Andrias Karel Keiluhu, ook bekend as Kace, 'n 44-jarige dokter van Indonesië, het gehelp om noodbystand in Mogadisjoe te verleen.
Havet is tydens die skietery dood, maar Keiluhu is ná 'n operasie in 'n hospitaal in Mogadisjoe dood, het die organisasie bygevoeg.
"Ons is diep geskok deur hierdie tragiese voorval en ons sal Philippe en Kace baie mis."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP