MDC stem nie saam met grondwet datum nie
2012-09-27 13:43
Harare – Zimbabwe se hoof opposisie, die Movement for Democratic Change (MDC), sê president Robert Mugabe se beplande tydstip vir ‘n referendum en 'n verkiesing nie realisties is nie.
Luidens dokumente wat by die hooggeregshof ingedien is, het Mugabe planne uiteengesit sodat Zimbabwe vroeg in November vir ‘n nuwe grondwet kan stem en in Maart 2013 ‘n presidensiële verkiesing hou.
“Die datums wat voorgestel is, is nie uitvoerbaar nie,” het Douglas Mwonzora, MDC-woordvoerder, gesê.
“Veral die datum van die verkiesing is eensydig, onrealisties en het geen wetenskaplike of regsbasis nie.”
Mwonzora het bygevoeg dat die MDC meer bekommerd is oor die toestande waaronder die verkiesing gaan plaasvind as die datums self.
“As ons daardie datums wil haal gaan Zanu-PF drasties moet verander.”
“Ons wil hê die verkiesing moet plaasvind onder toestande wat die geheimhouding van die stem en die kieser verseker.”
Zimbabwe maak reg vir sy eerste verkiesing sedert 2008, toe Mugabe gewen het nadat sy teenstander, Morgan Tsvangirai, homself onttrek het om die noodlottige geweld in die land te stop. Sowat 200 mense het tydens verkiesingsgeweld in die land gesterf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP