Libiese rebelle se visier nou op kusgebied
2011-08-06 23:22
Bir Ayad, Libië – Rebelle het Saterdag 'n nuwe offensief uit hulle vesting in Libië se westelike gebergtes van stapel gestuur, en mik nou na die setel van Muammar Gaddafi se heerskappy op die Mediterreense kus.
Die doel met dié stap is om uiteindelik by Tripoli uit te kom, berig die nuusagentskap AP.
Bomontploffings en die klank van vuurpyle wat afgevuur word kon Saterdag vanuit die dorp Bir Ghanam gehoor word, waar die rebelle, met die hulp van tenks, die grootste deel van die dag teen Gaddafi se magte geveg het.
Rebelle hoop op 'n deurbraak in die verre weste van Libië, waar magte ten spyte van deurlopende luganvalle deur Navo steeds nie vordering kon maak nie.
Die oostelike deel van die land is tans onder beheer van die rebelle, maar Gaddafi het steeds 'n houvas op die weste, insluitend Tripoli.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP