Libiese rebelle glo in beheer van oliestad
2011-03-05 07:46
Ra's Lanuf, Libië - Libiese rebelle het Vrydag gesê dat hulle beheer oorgeneem het oor die belangrike oliestad Ra's Lanuf in die noorde van Libië.
'n Senior regeringsamptenaar het bevestig dat gevegte in dié stad tot "talle sterftes" gelei het.
Die bekende Ra's Lanuf-raffinadery is in die stad geleë. Twee belangrike oliepyplyne loop ook deur die stad.
Honderde rebelle het tot laat Vrydagaand skote in die lug afgevuur en luid feesgevier ná hulle oorname van die stad.
'n Verslaggewer van die nuusagentskap AFP het rebelle buite die Harouge Oil Operations-geboue, by 'n weermagbasis, 'n polisiestasie en die hekke van 'n nabygeleë residensiële gebied gesien.
Die adjunkminister van buitelandse sake, Khaled Kaaim, het egter op sy beurt ontken dat rebelle die stad oorgeneem het.
"Die regering beheer dit. Alles is kalm in Raslanuf," het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP