Libiese rebelle dankbaar vir Franse wapens
2011-07-01 10:55
Kaïro – Libiese rebelle wat teen Muammar Gaddafi, die leier van Libië, se magte veg, het Frankryk Donderdag bedank vir wapens wat hulle aan dié groep verskaf het.
“Libiërs in die Nafusa-gebergtes lewe vandag en is veilig danksy 'n kombinasie van Libiese heldemoed en Franse wysheid en ondersteuning,” het Mahmoud Jibril, die voorsitter van die Nasionale Oorgangsraad, in Benghazi gesê.
‘n Franse weermagwoordvoerder het Woensdag bevestig dat Frankryk aan die begin van Junie ligte vuurwapens en ammunisie aan die Berber-stamme verskaf het wat teen regeringsmagte in die westelike Nafusa-gebergtes veg.
Voorheen was dit slegs Katar wat direk aan die rebelle ammunisie verskaf het.
Anders Fogh Rasmussen, Navo se sekretaris-generaal, het gesê die westerse militêre alliansie was nie by die Franse inisiatief betrokke nie en het geen inligting oor enige verskaffing van wapens deur Navo nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA