Libiese opposisieleier sal China besoek
2011-06-20 09:23
Beijing – Chinese owerhede het Maandag aangekondig dat die Libiese opposisieleier Mahmoud Jibril Beijing eersdaags sal besoek.
Dié aankondiging plaas weereens die aandag op China se betrokkenheid by dié Noord-Afrika-land se voortslepende burgeroorlog en word beskou as nog 'n terugslag vir die Libiese diktator, Muammar Gaddafi.
China se ministerie van buitelandse sake het in 'n verklaring van net een sin gesê Jibril sal Dinsdag en Woensdag in China wees. Geen ander inligting oor die besoek is tans beskikbaar nie.
Jibril is die voorsitter van die uitvoerende komitee van die nasionale oorgangsraad, 'n vereniging van rebellegroepe wat Gaddafi uit die kussings probeer lig.
China het in die eerste paar maande van die burgeroorlog in Libië nie betrokke geraak nie, maar het in die afgelope paar weke stappe geneem om die twee kante aan te moedig om 'n ooreenkoms te bereik.
Chinese diplomate in Katar het vroeër in die maand ook met die rebelleleier Mustafa Abdel-Jalil vergader.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP