Libiese leier vra vir eenheid
2012-07-10 07:30
Tripoli – Terwyl die Libiese verkiesingskommissie besig is om die stemme te tel ná die land se eerste vrye verkiesing die afgelope naweek, het een van die argitekte van Muammar Gaddafi se omverwerping 'n beroep gedoen op Libiërs om saam te staan.
Mahmud Jibril van die National Forces Alliance, wat volgens nie-amptelike uitslae waarskynlik een van die topkandidate in die verkiesing is, het versoek dat alle partye konsensus moet bereik oor die opstel van die nuwe grondwet en oor die samestelling van die nuwe regering.
"Dit maak nie saak wie wen nie, daar is geen verloorder of wenner nie. Libië is die ware wenner van dié verkiesings," het Jibril bygevoeg.
Sy opmerkings kom etlike ure nadat die leier van die mededingende Justisie en Konstruksie-party, Mohammed Sawan, erken het dat die NFA 'n vroeë voorsprong het in Libië se hoofstad en ook in Benghazi, die tweede grootste stad.
Die VN-leier, Ban Ki-moon het intussen 'n beroep gedoen op Libië se nuwe leiers om te regeer in 'n gees van "geregtigheid en versoening".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP