Libiese amptenare vlug na Tunisië
2011-06-25 10:15
Tunis – Negentien polisie- en weermagbeamptes was onder die nuutste groep Libiese- vlugtelinge wat hierdie week per boot in Tunisië aangekom het, het die Tunisiese nuusagentskap TAP Vrydag berig.
Daar was 49 vlugtelinge op die boot wat Donderdag om die hawe by El Ketef op die grens met Libië aangekom het.
Dit was die jongste in ‘n string bote wat daar gedok het sedert die begin van ‘n oproer teen die Libiese leier Muammar Gaddafi vier maande gelede.
Talle Libiese amptenare, insluitende die minister van buitelandse sake en die top-amptenaar van energie, het sedert Februarie uit die land gevlug.
TAP het vroeër in die week drie senior weermagamptenare aangehaal dat die dodetal van die konflik al op meer as 15 000 staan. Dit was nie bekend hoe die amptenare daardie syfer bekom het nie.
Gaddafi het herhaaldelik op die staatstelevisie onderneem om tot die einde toe te veg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters