Libiërs vlug uit Sirte tydens skietstilstand
2011-10-03 14:00
Sirte – Die Nasionale Oorgangsraad (NOR) handhaaf ‘n tydelike skietstilstand in Sirte en duisende mense gebruik die kans om uit dié Libiese stad, een van die laaste vestings van Muammar Gaddafi se magte, te vlug, het RSG berig.
Die revolusionêre magte van die NOR probeer reeds weke lank om Sirte oor te neem en Gaddafi-lojaliste in hegtenis te neem.
Die Internasionale Rooi Kruis het gesê die humanitêre toestand in Sirte is haglik.
Dié groep moes Saterdag mediese voorraad aan hospitale in Sirte neem en het gesê dat die hospitale ook deur vuurpyle aangeval is.
“Die aanvalle het Saterdag net té erg geraak,” het Ali Faraj, ‘n inwoner, gesê. “Ons kon net nie meer langer in Sirte bly nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP