Libië kort kos en water
2011-09-02 14:47
Tripoli – Libië word deur ‘n kritiese tekort aan drinkwater, kos, brandstof en medisyne in die gesig gestaar, het die Verenigde Nasies se humanitêre koördineerder vir Libië gewaarsku.
Die tekort is veroorsaak deur die reeds ses maande lange burgeroorlog tussen rebelle en kol. Muammar Gaddafi se magte wat toevoerlyne ontstig en die infrastruktuur beskadig het.
Talle VN-agentskappe is tans in Tripoli besig om te help met die land se humanitêre behoeftes, het Panos Moumtzis, die VN se humanitêre koördineerder vir Libië, gesê.
Moumtzis het gesê dat die VN reeds 11 miljoen bottels water na Libië geneem het.
Daar sal ook binnekort sowat 600 ton voedsel en medisyne ter waarde van €100 miljoen (R999 miljoen) na Libië geneem word.
Hy het bygevoeg dat die VN se hulp slegs tydelik is.
“Die land het baie hulpbronne en ons sien die humanitêre behoeftes slegs as ‘n kort termyn probleem. Die humanitêre program sal waarskynlik net tot die einde van die jaar duur,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP