Libië beloof Hammerl se oorskot sal na SA kom
2011-06-01 11:14
Pretoria - Die Libiese regering is gretig om die verleentheid oor sy hantering van die uitlewering van Anton Hammerl reg te stel en het belowe die aangeleentheid gaan nou op “hoogste vlak” verder gevoer word.
Dít was na verneem word die gees waarin kol. Muammar Gaddafi, die Libiese leier, en sy senior ministers Maandagaand ’n onderneming aan pres. Jacob Zuma gegee het dat Hammerl se oorskot aan Suid-Afrika oorhandig sal word.
Volgens diplomatieke bronne het die Libiërs DNS van Hammerl versoek omdat dit nou – bykans twee maande sedert hy op 5 April naby Brega doodgeskiet is – onmoontlik is om sy oorskot aan beskrywings uit te ken.
Die Hammerl-familie het in samewerking met Human Rights Watch (HRW) ’n lêer vol inligting oor Hammerl, fisieke kenmerke soos tatoeëermerke, die ligging van die gebied waar hy geskiet is en alle toeligtende inligting van die vrygelate joernaliste wat saam met hom was toe hy geskiet is, aan Zuma se kantoor oorhandig om saam te vat.
Zizi Kodwa, Zuma se woordvoerder, het Dinsdag gesê die voorstelle hoe om die soektog na Hammerl se oorskot verder te neem sal met die familie bespreek word. Hy wou nie verder oor die voorstelle uitbrei nie.
Hammerl is deur pro-Gaddafi-soldate doodgeskiet terwyl nog drie buitelandse joernaliste gevange geneem is.
Die Libiese regering het Suid-Afrika ses weke lank belowe dat Hammerl in aanhouding en ongedeerd is voordat die drie ander joernaliste ná hul vrylating bevestig het Hammerl is dood.
Peter Bouckaert van HRW het Dinsdag gesê dit is verblydend dat Zuma dié keer ’n direkte versoek aan Gaddafi gerig het om Hammerl se oorskot te oorhandig.
“Die Libiërs het nou al die nodige inligting om sy oorskot op te spoor en sy dood behoorlik te ondersoek. Ons kan nie ons eie soektog van stapel stuur nie, want daar is steeds skermutselings in die Brega-gebied.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger